Die plaaslike rymkletser Che-V se loopbaan het nóg ’n hoogtepunt bereik met haar nuutste musiekvideo Whind met DaFaith.
Die video word tans gereeld op die DStv-kanaal Channel O (302) gespeel. Volgens Chris Samuels, die kletsrymer se bestuurder, is die video verlede November op die strande van Kampsbaai en Seepunt gemaak.
Che-V se heel eerste snit, “I am Woman”, is in 2014 vrygestel en in 2015 het sy ook vroueleiers uit die gemeenskap genader om in die musiekvideo van die treffer te wees wat op Vrouedag, 9 Augustus, vrygestel is.
Volgens Samuels is die Whind-video, wat byna R10 000 gekos het, deur ’n plaaslike vervaardiger, Ralph Johannes, verfilm en geproduseer.
Die video het gewild geraak en is ook verskeie kere op Hectic 9, SAUK kanaal 2, vertoon.
Che-V, voormalige wenner as beste rymkletser van die 2015- Suidoosterfees, is besig om haar merk as kunstenaar behoorlik te maak. Die Channel O musiekkanaal is ’n Suid-Afrikaanse musiekkanaal wat sedert 1997 musiek van die kontinent bevorder.