Geleenthede in die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SES) sal onder meer behels:
. ’n SES-belegger: Trek voordeel uit die nasionale SES-aansporings. Dit sal tot die beskikking wees van onder-nemings wat aansoek doen met ’n nuwe onderneming of uitbreiding in groen tegnologie.
. ’n Leweransier of diensteverskaffer aan beleggers: Beleggers in die sone sal verskillende insette en dienste benodig wat hulle direk van die mark kan verkry.
. Diensteverskaffer aan die bestuur en werksaamhede van die SES self: Die ontwikkeling en bedryf van ’n SES sal verskeie ondersteuningsdienste benodig wat die uiteindelike SES-bedryfsentiteite regstreeks sal verkry. Ooreenkomstig die beoogde SES-plan moet inligting oor tenders en verkryging deur middel van ’n aantal verskillende kanale beskikbaar gestel word om billike en gelyke toegang tot geleenthede te verseker. Tans word tenders en verkrygings geleenthede deur middel van regstreekse kanale gedeel, met beplanning om ’n aanlyn portaal vir geleenthede te skep en om geleenthede, inligting en nuus deur middel van e-pos en sosiale media te kommunikeer. SES-beleggers, die bestuur van die Atlantis SES, en enige verwante entiteite volg tans hul eie gepaste prosesse vir regstreekse verkryging. Dit kan beteken dat tenders aanlyn op ’n spesifieke entiteit se webwerf en/of deur ’n tenderportaal geplaas word, soos ’n onlangse tender wat deur Wesgro gedeel word. Wesgro is deur die provinsiale regering gemagtig om die Atlantis-SES-bestuursentiteit op te stel. ’n Gemeenskapswerksessie oor ondernemingsontwikkeling in November 2018 het die kollig laat val op die begeerte om ’n aanlyn portaal beskikbaar te stel. Dit sal verseker dat belanghebbendes altyd toegang tot die jongste inligting en geleenthede byderhand het en oor die vermoë beskik om SES-verwante inligting te hersien. Dit is ingesluit in die voorgestelde plan vir implementering deur die SES.
Die rol van die Atlantis SES- gemeenskapsbelangegroepnetwerk (ASES-GBN):
Die ASES-GBN se belangrikste rol is om die behoeftes en belange van die gemeenskap en sakeondernemings in aangeleenthede betreffende die Atlantis SES te verteenwoordig, en om as kommunikasiekanaal tussen die Atlantis SES en die plaaslike gemeenskap te dien. Die lede van die ASES-GBN is 18 Julie vanjaar aan die gemeenskap bekend gestel. Hulle sal maatreëls wat deur die ASES verskaf word en die gemeenskap raak, monitor om te verseker dat geleenthede vir die gemeenskap bestaan, insluitend toegang tot opleiding, ondernemingsontwikkeling en indiensneming.
Wat staan plaaslike sakeondernemings volgende te doen?
Sakeondernemings wat in geleenthede belangstel, word aangemoedig om die Wesgro-webwerf, onafhanklike tenderportale en die tussentydse SES-webblad gereeld na te gaan. Hulle moet ook op die Wes-Kaapse regering se verskaffers-databasis en die sentrale verskaffersdatabasis registreer.