Samespel ’n plesier om te aanskou

Die Hamlets-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld teen Rangers van Surrey Estate gespeel en die besoekers behoorlik laat les opsê met ’n 52-5 oorwinning.


Die Hamlets-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld teen Rangers van Surrey Estate gespeel en die besoekers behoorlik laat les opsê met ’n 52-5 oorwinning.

Die tuisspan het reeds in die eerste helfte sy bonuspunt verdien en gaan water drink met die telling 28-0.

Hamlets het die besoekers van die afskop af onder druk geplaas en dit was vroeg reeds duidelik dat dit ’n lang dag vir die kuiergaste gaan wees.

Hamlets se voorspelers, die agtsteman, Ernie Hardenburg, en die flank Genius Mhlambo, het die spel oorheers en die grondslag gelê vir die agterlyn wat hoëgehalte en vinnige balbesit opgelewer het.

Die tuisspan het egter verskeie kanse met aanslae verlore laat gaan.

Agterlangs het die senter Brynn Gericke en die vleuel Daylon Arendse baie van die besoekers se verdediging vereis.

Die tuisspan se samespel tussen sy voor- en agterspelers was by tye ’n plesier om te aanskou en die besoekers moes keer vir al wat hulle werd was. Die besoekers se taktiek om die pas met beserings te vertraag, het nie juis die tuisspan se momentum versteur nie, sê die Hamlets-afrigter Gavin Passens.

Die tuisspan het die tempo ná rustyd gehandhaaf en die besoekers nooit toegelaat om terug te veg nie. Hamlets, wat sy eerste wedstryd naelskraaps teen Elsies verloor het, het geskaaf aan teen Elsies gekort het, en Rangers het die prys betaal. Die span het agt drieë teenoor die besoekers se een gedruk.

Volgens Passens moes die telling veel hoër gewees het aangesien die spelers baie kanse verlore laat gaan het.

Hamlets geniet hierdie naweek ’n loslootjie.

• Young Hearts het Saterdag die span van Paternoster met die kous oor die kop teruggestuur toe hy die wedstryd op die Grafkelder maklik 55-24 gewen het.

Die tuisspan was rustyd reeds 24-10 voor.

Young Hearts het met die oorwinning na die derde plek op die punteleer opgeskuif en pak Velddrif hierdie naweek.

Mamre het Saterdag in sy wegwedstryd teen Hopefield byna sy eerste oorwinning behaal, maar teen die einde 24-31 vasgeval en daarmee ook sy eerste punt verdien omdat hy met sewe of minder punte verloor het.

Die groentruie sal hierdie naweek ’n blaaskans geniet voordat hy Langebaan tuis aandurf. Mamre sal op sy stukke moet wees want Langebaan gaan ’n harde neut wees om te kraak.

You need to be Logged In to leave a comment.