Suzette Little, mini-burgemeester vir subraad 1 en burgemeesterskomiteelid, het Woensdag ’n vergadering met die gemeenskap gehou.Foto: Murphy Roberts


“As almal saamwerk en ophou mekaar dophou sal Atlantis ’n beter plek vir almal word.”

Sò meen Suzette Little, burgemeesterskomiteelid en “mini-burgemeester” van subraad 1, tydens ’n gemeenskapsvergadering Woensdag 8 Maart by die Robinvale-gemeenskapsaal.

Little het saam met subraad 1-voorsitter en bestuurder, Cynthia Clayton, en Wessie van der Westhuizen, asook wyksraadslid, Barbara Rass, sowat 150 lede van organisasies en die gemeenskap toegespreek. Tydens die vergadering het gemeenskapslede ook kans gekry om hul misnoeë uit te spreek oor kwessies wat hulle kwel.

Volgens Delmarie Solomons, ’n gemeenskapswerker en wyk 32 se DA-voorsitter, probeer sy hard om werkloses te help met verskeie projekte wat deur die Stad geïmplementeer word.

“Inwoners word aangestel, maar werk dan net vir een maand. Daar word ook van werkloses verwag om Kaap toe te reis om vorms in te vul, terwyl hier plaaslike amptenare is wat die papierwerk kan hanteer,” het Solomons gesê.

Inwoners het ook gekla dat die werkersklas nie toegang het tot inligting nie, omdat baie vergaderings in die week gehou word wanneer mense nog werk.

Little het inwoners gemaan om kreatief te wees en projekte te identifiseer, en belowe dat die Stad betrokke sal raak.

“Vrouens moet hulself bemagtig want daar is geld om kleuterskole en ander projekte te begin,” het sy gesê.

Ashley Poole, van die Atlantis Sakekamer, het op sy beurt aan Little gesê daar is geen samewerking tussen sy organisasie en die Stad nie. As die sakekamer moet die organisasie geken word in alle sake wat die plaaslike ekonomie raak.

Little het die sakekamer geadviseer om ’n naweek-werkssessie te reël om eers hul interne strukture in plek te kry. Sy het ook belowe om verskeie rolspelers by die werksessie te betrek.

You need to be Logged In to leave a comment.