Clint van Schalkwyk (23) sing reeds vandat hy kan onthou.
In 2010 het hy aan sy eerste kompetisie deelgeneem en nooit weer aan ’n sangloopbaan getwyfel nie.
“Toe ek my verstand kry, het ek reeds geweet ek wil sing,” vertel die voormalige leerders van Proteus Hoër Tegniese skool.
In 2013 het hy tweede geëindig in Vision Music Records se Sing-kompetisie en was vir ’n rukkie op hul boeke.
Hy het vroeër vanjaar ingeskryf vir die immergewilde South African Idols, maar het nie tot die volgende ronde deurgedring nie. Van Schalkwyk het geweldige deursettingsvermoë omdat hy weet dat sang sy passie is.
Gedurende Augustus beplan hy om ’n oudisie te gaan doen vir die International Arts Talent Showcase in Johannesburg, wat moontlik vir hom kan deure oopmaak om internasionale ervaring op te doen.
Om geld in te samel om die koste van die reis na Johannesburg te dek, hou hy Vrydag 14 Julie ’n konsert by die Protea Park Primêr se skoolsaal. Kaartjies kos R50 en sluit optredes deur Che-V, Sili Boy, Kim de Lange, Eden Biggs en die dansgroep Touch Devotion in.
Daar is ook pryse te wen op die aand. Kontak Clint van Schalkwyk by 064 412 6146 of op WhatsApp by 063 613 0921.