Die sluiting van die plaaslike kantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) het inwoners bekommerd oor die komende Kerstyd.
Inwoners is ontsteld nadat die kantoor sy deur moes sluit op aandrang van die departement van arbeid. Dié departement het gevind dat die Sassa-kantoor ’n gesondheidsgevaar inhou.
Mense wat hul vorms aan Sassa moes terugneem, moes voor dooiemansdeur terugdraai.
Weskus Nuus het intussen vertroulik verneem dat Sassa R4 miljoen se huurgeld aan die Stad Kaapstad skuld en het daarom nie die gemeenskapsaal gekry om voorlopig uit te werk nie.
Die pensioenaris, Katriena Pedlo (66), sê sy is baie bekommerd omdat sy haar doktersbrief moes inhandig en die amptenare weier nou om dit te vat omdat die kantoor toe is.
’n Amptenaar van die Stad Kaapstad het in korrespondensie wat in Weskus Nuus se besit is, geweier om Sassa te help met tydelike werksplek voor Sassa se “skuld nie betaal is nie”.
Die amptenaar het dit duidelik gemaak dat sy instruksies gekry het om onder geen omstandighede Sassa te help alvorens daar nie ’n bewys van betaling is nie.
“Ons gaan nie kan pay nie, want hier sit ons steeds met die vorms en ons weet nie wat om te doen nie,” het sowat 30 mense aan Weskus Nuus gesê.
“Die amptenare is onbeskof met ons en wou weet of ons nie kan lees dat die kantoor gesluit is nie,” het een bejaarde vertel.
Sassa-begunstigdes, veral die ouer mense, is woedend omdat hulle nou geld moet uitgee om by Sassa se tydelike kantoor uit te kom.
Inwoners moet nou tot in Mamre of Pella reis en kla hulle het skaars geld vir elektrisiteit waar moet hulle nog geld vir vervoer kry.
Die 63-jarige John Titise sê hy was nie in kennis gestel dat die kantoor gaan toe wees nie en het maar op die dag uitgevind. Titise sê hy weet nie hoe hy met sy vorm gaan maak nie, want dit moes reeds in gewees het en hy vrees nou dat hy nie sy toelaag gaan kry nie.
Volgens Shivani Wahab, senior kommunikasiebestuurder van Sassa, moet die Stad eers die skade in die kantoor regmaak voor Sassa-werkers na hul kantoor kan terugkeer.
Wahab sê raadslede is reeds in kennis gestel van die sluiting, maar raadslid Cynthia Clayton het Donderdag 22 November by ’n subraad 1-vergadering gesê sy het geen kommunikasie van Sassa ontvang nie.
Wahab sê voorts inwoners kan steeds hul kaarte by die poskantoor gebruik en dat die agentskap kliënte sal inlig sodra hulle ’n geskikte perseel kry.