Saxonsea gee spanne uitklophou

Atlantis-rugbyklub het op Jeugdag sy eerste skole-rugbytoernooi aangebied en ten spyte van verskeie skole wat op die nippertjie onttrek het, was die dag ’n “reuse-sukses”, volgens die organiseerders.


Atlantis-rugbyklub het op Jeugdag sy eerste skole-rugbytoernooi aangebied en ten spyte van verskeie skole wat op die nippertjie onttrek het, was die dag ’n “reuse-sukses”, volgens die organiseerders.

Tydens die toernooi het vyf skole mekaar Saterdag 15 Junie op die Proteapark-sportterrein gepak.

Volgens Anthea Jansen, bestuurder van die klub, sal die toernooi beslis ’n jaarlikse instelling word. Sy meen die rugby in die gebied kan net baat vind by die ontwikkeling.

Jansen sê voorts baie ouers besef nie wat hul teenwoordigheid langs die veld vir die kinders se selfvertroue beteken nie. Slegs ’n handjievol ouers het hul kinders ondersteun en dit is kommerwekkend, sê Jansen.

Saxonsea Primêr het in sy wedstryd teen Reygersdal Primêr vroeg reeds sy stempel afgedruk. Dié wedstryd was die openingswedstryd van die toernooi. Saxonsea se span het uiteindelik 34-0 geseëvier.

Saxonsea is ook as die wenners van die toernooi aangewys nadat hulle Hermeslaan in die eindstryd 31-17 geklop het. Hermeslaan het op sy beurt in die tweede plek geëindig.

Die organiseerders het hul borge – Weskus Nuus, Radio Atlantis en MK1 Lifestyle – bedank vir hul bydrae om die dag moontlik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.