Verdi se Requiem word beskou as een die gewildste werke in die repertorium vir groot koorkomposisies. Dit is nieliturgies en word dus in konsertsale uitgevoer soos aanstaande maand op die US Woordfees in Stellenbosch.
Johan de Villiers, jare lange leier van Stellenbosch se Libertaskoor, het vier van die voorste sangers in Suid-Afrika nadergetrek vir die solorolle in die geliefde werk, naamlik Cecilia Rangwanasha (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan), Given Nkosi (tenoor) en Conroy Scott (bas).
Scott van Atlantis, het aan Atlantis Sekondêre skool gematrikuleer. Hy was verlede jaar die wenner van die WoordTrofee vir klassieke musiek (vokaal) vir sy vertolking van Elia in Mendelssohn se gelyknamige oratorium. Hy is ook ’n ad hoc-kontrabasspeler vir die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.
Rangwanasha was verlede jaar die eerste Suid-Afrikaner wat die klassieke afdeling van die Unisa Internasionale Vokale Kompetisie gewen het nadat sy in 2017 ook die septer in die ATKV-Muziqanto geswaai het.
Sy is ook gekies vir die instaanrol van Senta, die uitdagende vroulike hoofrol in die Wagner-opera Der fliegende Holländer, wat in Februarie 2018 in Kaapstad opgevoer is.
Du Toit-Pearce, ’n sangdosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), tree gereeld as solis in oratoria op en is ’n gevierde kunsliedsanger.
Nkosi is ’n ou bekende op Kaapse verhoë, ongeag of dit in opera of as solis in oratoria is. Verlede jaar het hy die eerste keer aan ’n kompetisie in die buiteland deelgeneem en tot die halfeindronde deurgedring. Hy was tot onlangs ook ’n geaffilieerde sanger van Israel se Meitar-opera-ateljee.. Dié opvoering vind 9 en 10 Maart 15:00 in die Endlersaal, Stellenbosch plaas. Bespreek by Computicket.