Sy plekkie by die huis en skool is leeg.
Honderde klasmaats en gemeenskapslede het Donderdag ’n gedenkdiens van wyle Joshua Joubert (14) by sy skool, Robin Hill bygewoon.
Joshua het Sondag 29 Oktober by Melkbosstrand verdrink.
Duikers het dae lank tevergeefs na die tiener se lyk gesoek.
Dinsdag 7 November, presies nege dae na Joshua verdrink het, het ’n inwoner op die uitgespoelde lyk van ’n jong persoon afgekom.
Die lyk het sowat 10 km van waar hy verdrink het, oorkant die Ouskip-woonwapark, uitgespoel.
Vir Joshua se familie was dit ’n verligting, omdat “die see sy liggaam teruggegee het”.
Die familie is na die toneel gebring, maar was nie toegelaat om hom te sien nie.
Volgens een van die reddingswerkers op die toneel, is die oorskot “onherkenbaar”.
Ds. Richard Stalmeester het Donderdag die emosionele roudiens gelei. Hy het roubeklaers herinner dat tyd kosbaar is.
“Moenie uitstel tot môre nie. Bring die blommetjies nou. Gee die drukkies en soentjies nou. Kom ons doen nou die mooi dingetjies vir mekaar,” het Stalmeester gesê.
Volgens konst. Debi Alard, Melkbosstrand-polisiewoordvoerder, sal ’n geregtelike doodsondersoek ingestel word. Sy het bevestig DNS-toetse moet gedoen word om te bepaal of dit wel Joshua se lyk is.”