Hamlets-rugbyklub het die Presidentsbeker-trofee suksesvol verdedig deur Franschhoek in die eindstryd op City Park te klop.
Volgens Franco Johannes, ’n bestuurslid van die klub, het ondersteuners van so ver as Darling gereis om die span op die dag te ondersteun.
Hamlets, wat die seisoen een plek swakker as verlede seisoen geëindig het, het die eindstryd met 27-10 gewen nadat hy rustyd met 10-3 voor was. Isaac Davids (2), Deego Arends en Udene van der Merwe het die kampioen se drieë gedruk, terwyl Keanon Okkers twee doelskoppe oorgeklits het.
Die klub hou Sondag 29 Oktober sy jaarvergadering, nuwe spelers is welkom om die dag by te woon.
. Volgens Young Hearts se afrigter, Ruben Abels het die span vir die eerste keer in sy bestaan van 24 jaar promosie na die Boland-topliga gekry. Die span van Pella, wat die seisoen tweede op die punteleer geëindig het, het in die halfeindstryd van die top-12 teen Bredasdorp op Boland-stadion met 42-34 vasgeval. Volgens die gesoute afrigter het die unie ’n voorlopige program bekend gemaak waarin Pella moontlik teen gedugte spanne soos Saldanha, Wesbank en Never Despair kragte sal meet.
Die span is voorlopig in die Weskusstreek ingedeel, maar sal eers met die unie se jaarvergadering 15 November weet in watter streek van die topliga hy sal meeding.
. Atlantis-rugby het ’n nuwe era betree sedert Fabian Brandt die afrigterspos oorgeneem het. Atlantis, wat in die sesde plek op die punteleer was toe Brandt oorgeneem het, het daarna slegs een wedstryd verloor en die span het vir die eerste keer in baie jare weer silwer gewen toe hy die afdeling gewen het. Volgens Brandt gaan dinge volgende seisoen baie anders wees aangesien die spelers se selfvertroue ’n massiewe hupstoot gekry het. Enige nuwe spelers wat graag volgende seisoen by die klub wil aansluit kan die bestuur kontak.
. Mamre-rugbyklub, wat die seisoen baie wisselvallig vertoon het, sal vinnig die spelers se gesindheid moet lig as die span nie weer die slaansak in die streek wil wees nie. Mamre wat teen die einde van die seisoen ontwaak het, sal moet voortbou waar hy die seisoen afgelos het en sal dan ook sodoende weer ’n span wees om mee rekening te hou.