“Ek soek my pa! Ek soek my pa!”

Só het die 10-jarige Karoeshka Cloete Dinsdag 19 Junie ná skool geskree toe sy gehoor het haar pa is die vorige aand doodgesteek.

Abdurahgiem “Giempie” Cloete (47), van Neptune Castle, is Maandagaand deur ’n sekerheidsbeampte by ’n vulstasie in die Atlantis-sakekern, gelem.

“Giempie het maar net geskarrel vir ’n brood se geld en het elke dag sy scrap gaan ingee,” vertel sy drie kinders se ma, Magda Jacobs (47).

“Hy wou nie in ’n huis woon nie en het die straat bo my dak verkies,” het Jacobs aan Weskus Nuus met trane in haar oë gesê.

“Hy kon nie ’n vlieg seermaak nie en het beslis nie verdien om só te sterf nie. Giempie was lief om in die aand sy ‘goed’ bymekaar te maak en dan vat hy dit gewoonlik vroegoggend na die skrootwerf.”

Volgens die oorledene se ouer broer, Michael, kon Giempie nooit lank op een plek woon. “Ons het hom nie kwalik geneem nie en ons deure was nooit vir hom toe nie. Hy sal gewoonlik net ’n paar minute kuier dan sou hy weer gaan skarrel vir ’n brood se geld sodat sy kinders kan eet,” vertel Michael.

“Giempie is vermoedelik deur die wag gesteek nadat hulle Maandagaand net ná 23:00 gestry het oor rommel wat uit die drom verwyder word,” sê kapt. F.C van Wyk, provinsiale polisiewoord­voerder.

Hy voeg by dat die wag ’n mes uitgehaal en Giempie in die rug gesteek het.

Giempie het minute later in Wesfleur-hospitaal aan sy wond beswyk.

Die 46-jarige sekerheidsbeampte is intussen in hegtenis geneem en het Donderdag 21 Junie in die Atlantis-landdroshof op klag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.