Sekskapades stu voort

Die stof rondom die sekskapades by die Atlantis-landdroshof wil steeds nie gaan lê nie.


Die stof rondom die sekskapades by die Atlantis-landdroshof wil steeds nie gaan lê nie.

Weskus Nuus het vertroulik verneem die ondersoek teen ’n voormalige senior hofbeampte, wat van seksuele wangedrag aangekla is, is reeds vroeg verlede jaar afgehandel.

Die amptenaar is steeds nie aangekla nie, maar is ook nie meer in hul vorige pos by die hof nie, hoewel hy steeds op die bank is. Ingevolge vertroulike inligting is die ondersoek deur ’n landdros afgehandel en het hy aanbevelings aan die landdros- etiese komitee gedoen, wat dit op hul beurt aan die landdroskommissie voorgelê het.

Die aanbeveling is dat die beampte intern aangekla moet word. Wat egter krap, is dat byna nege maande later nog niks gebeur het nie.

Weskus Nuus het by ’n voormalige landdros gaan kers opsteek oor wat die klagtes inhou. Volgens die voormalige landdros is die klagtes teenstrydig met die gedragskode van landdroste en moes die kommissie hom reeds lankal in die pad gesteek het.

Die waarnemende sekretaris van die kommissie, Michael Nieuwoudt, het nie op die navrae reageer oor hoekom nog nie teen die senior hofbeampte opgetree is nie. Intussen het nog ’n senior amptenaar by die Atlantis-hof, wat van verkragting aangekla is, erken hy het ’n seksuele verhouding met ’n vroulike klerk gehad. Die amptenaar erken hy het egter die verhouding beëindig nadat die klerk begin by hom geld leen het.

Beide voorvalle was glo by die Malmesbury-hof en die twee amptenare is daarna na die Atlantis-hof verskuif. Die klerk het op 16 Mei 2022 ’n klagte van verkragting by die Milnerton-polisie aangemeld. Weskus Nuus het intussen bewyse in sy ontvangs dat die amptenaar intussen weer na Malmesbury oorgeplaas is en die slagoffer het intussen ’n ineenstorting gehad.

Die Atlantis-hof is geruime tyd onder die vergrootglas en van die oortredings hier is ’n voormalige hoofaanklaer wat met pornografie betrap en skuldig bevind is, “papgeld” (verdagte tans in die hof) en bandopnames wat verdwyn het, en ’n senior amptenaar wat in die besit van dwelms betrap is.

You need to be Logged In to leave a comment.