Die 53-jarige beskuldigde wat op Vrydag 19 September na bewering twee maatjies van onderskeidelik 10 en 11 jaar oud na duine gelok het “om sy hasies te gaan kos gee”, is as ‘n monster beskryf.
Die verdagte ís al aan seksuele dade met minderjariges skuldig gevind wat spruit oor drie dekades, het ‘n betroubare bron aan WeskusNuus verklap.
Volgens die bron is die beskuldigde in 1993 in die Paarl aan ‘n seksuele misdryf met ‘n minderjarige skuldig bevind en ses jaar tronkstraf opgelê, waarvan vier jaar vir vyf jaar opgeskort was.
“Die Monster”, soos hy nou gedoop is, het daarna verskeie ander seksuele misdrywe met veral minderjariges gepleeg. Sy laaste was ‘n 11-jarige en hy is vir 10 jaar tronk toe gepos.
Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Lisa Munro word tans twee klagtes van poging tot verkragting sowel as van seksuele aanranding en ontvoering teen die verdagte ondersoek.
“Die Monster” het sy borgaansoek op Maandag 29 September laat vaar en moet op 28 Oktober weer in die hof verskyn.
Die dapper optrede van een van die twee meisies in die jongste geval het die ander van verkragting gered toe sy, terwyl die maniak besig was om sy broek af te trek, die kans gebruik het om weg te hardloop en hulp te gaan kry.
Kapt. Munro het bevestig dat ‘n 53-jarige man op 19 September ná ‘n volskaalse soektog net ná 17:00 naby sy huis op klagtes van ontvoering en poging tot verkragting aangekeer is.
Volgens ‘n betroubare bron het die man, wat onlangs ná nege jaar weens verkragting uit die tronk gekom het, die twee maatjies die betrokke Vrydagoggend by die ou sentrum genader.
Hy het na bewering die een kind gestuur om “chips”te gaan koop en gevra hulle moet saamgaan om sy hasies te gaan kos gee.
Die twee onskuldige meisies het ingestem om te gaan help om die hasies te gaan kos gee, vertel die bron.
Die beskuldigde het egter met die twee na die duine geloop, waar die hasies kwansuis sou wees, en het onwetend in die verkragter se strik beland.
Volgens die bron is gou alarm gemaak oor die twee vermiste meisies en talle beeldmateriaal is opgevolg, wat die polisie na die duine gelei het. Die polisie se lugvleuel was binne ‘n uur op die toneel en verskeie hommeltuie is ook ontplooi.
Volgens die bron is die meisie wat weggekom het, deur ‘n motoris na die polisiekantoor geneem terwyl die verdagte koue voete gekry en in die duine verdwyn het. Die soektog het egter voortgeduur en die gebied is gefynkam, maar sonder sukses, vertel die bron. Hy was soos ‘n skim en ken die gebied soos die palm van sy hand, want niemand kon hom opspoor nie. Die man het laatmiddag doodgerus huis toe gestap en inwoners het die polisie gekontak.


