Die Weskus Senior Burger-klub het onlangs sy 35ste bestaansjaar in die Saxon Sea-gemeenskapsaal gevier.
Die bejaardes was Woensdag 26 September bederf met ’n heerlike ete en vermaak terwyl raadslid Cynthia Clayton hulle ook met geskenkpakkies verras het.
Volgens Nessa Davids, die klubbestuurder wat reeds 30 jaar aan die stuur van sake by die klub is, was die klub die eerste van sy soort wat destyds in Atlantis gestig is.
Sy sê die klub het al talle hoogtepunte oor die meer as drie dekades opgelewer. Nie net het die eerste tuisversorgingsorganisasie sy ontstaan by dié klub gehad nie, maar die klub was ook een van die eerstes wat sy stem teen die mishandeling van bejaardes dik gemaak het. Volgens Davids is dit skokkend om te sien hoeveel bejaardes deur families, versorgers en vriende mishandel word. “Die organisasie teen mishandeling van bejaardes is nie meer aktief in Atlantis nie, maar ons hanteer steeds sulke gevalle,” vertel Davids.