Sluit die Thusong-sentrum.
Só meen raadslede wat Donderdag 22 November by die subraad 1-vergadering was.
Dít kom nadat dit gevind is dat dié sentrum ’n gesondheidsrisiko vir werkers en kliënte inhou.
Fiona Abrahams, proporsionele raadslid van die ANC, het by dié vergadering gesê dat die gesondheidsgevaar byna tot die dood van ’n amptenaar van die departement van binnelandse sake gelei het.
“Die sentrum moet gesluit word en heeltemal nagesien word,” meen Abrahams.
Die voorstel is deur die DA-beheerde raad aanvaar. Die kantoor van binnelandse sake is ná ’n inspeksie deur amptenare van die departement van arbeid gesluit en ’n paar dae later heropen nadat hyself ’n kontrakteur aangestel het om geringe opgraderings te doen.
. By die vergadering het subraadvoorsitter, Cynthia Clayton, die raad geprys vir die goeie samewerking die afgelope jaar.
Volgens die raadslid het die subraad goeie suksesse behaal. Clayton het beklemtoon dat die Witsand-saal onder bespreking is en het ook die goedkeuring van Abrahams se mosie, dat MyCiTi-busdienste na die Silwerstroomstrandoord gedurende die feestyd moet ry, as ’n hoogtepunt van die jaar genoem.
Abrahams sê wat vir haar dié jaar uitstaan, is die behuisingsprojek wat sy voorgestel het en die groen lig daarvoor gekry het. Sy meen ook die tydelike MyCiTi-busroete na die Silwerstroomstrandoord is ’n ligpunt. Sy sê dit is nie net omdat dit haar mosies was nie, maar omdat almal hard gewerk het om dit goedgekeur te kry. Dit was die laaste subraad-vergadering van die jaar.