Sentrum val uitmekaar

’n Swanger vrou moes tyd in die hospitaal deurbring nadat sy by die ou winkelsentrum geval het.


’n Swanger vrou moes tyd in die hospitaal deurbring nadat sy by die ou winkelsentrum geval het.

Instandhouding by dié sentrum is vir jare nie gedoen nie.

Melony Francke (34), wat agt maande swanger is, vertel sy het Donderdag 31 Januarie inkopies by ’n kettingwinkel in die sentrum gaan doen toe sy oor een van die vele stukkende teëls gestruikel, haar balans verloor en geval het.

Francke, was baie bekommerd oor die baba en moes die dag in die hospitaal deurbring. Sy sê ook dit was ’n gesukkel om iemand van die sentrum te kry om ’n amptelike klag in te dien.

Volgens informele handelaars wat naby die sentrum handel dryf, is hulle glad nie verbaas nie.

Hulle sê die eienaars is gou om die huurgeld te ontvang, maar daar word die afgelope paar jaar niks aan die toestand van die sentrum gedoen nie.

“Ons verloor baie kliënte omdat mense nie hiér wil loop nie,” het een handelaar aan Weskus Nuus gesê.

Volgens Benna Titus, wat omtrent elke dag by die sentrum is, is dit nie die eerste keer dat iemand hiér seerkry nie. Titus vertel dat hy al baie mense gesien het wat seerkry en “in die meeste van die gevalle is dit ou mense wat val”.

Volgens die handelaars word daar net elke keer beloftes gemaak dat die sentrum opgeknap gaan word.

Shafick Sallie, glo die sentrum­bestuur, het na verskeie pogings glad nie op Weskus Nuus se navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.