Atlantis se eerste vroulike sektor-bevelvoerder, sers. Yvette Dirks, sê baie werk lê nog voor, maar sy sien uit na die uitdagings en het reeds begin om projekte te identifiseer.
Dirks is nou in beheer van Sektor 3, wat die Atlantis-sakekern, Avondale en die nywerheidsgebied insluit.
Dié sersant is reeds 18 jaar in die polisie en kom van Mamre. Sy sê wat haar werk as sektorleier vergemaklik, is haar passie om die gemeenskap te dien.
“Ek weet ons kan nie almal gelyktydig gelukkig hou nie, maar wanneer ons saamwerk, kan ons almal gelukkig hou,” sê die ywerige polisiebeampte. Sy sê sy het ongelukkig nie tyd om haar voete te vind nie, want met die Kersseisoen hier moet almal nou saam hande vat in die stryd teen misdaad.
“Ek gaan baie op die skole in die gebied fokus, want dit is waar die probleme begin. Ek wil nie verklap wat my planne vir my sektor is nie, maar een ding waarvan ek seker is, is hier gaan ons saamwerk om Atlantis ’n veiliger plek te maak,” meen sy.