‘SES’ ’n werklikheid

Die parlement het Vrydag 8 Junie die goedkeuring gegee vir ’n permit vir Atlantis se Spesiale Ekonomiese Sone (SES).


Die parlement het Vrydag 8 Junie die goedkeuring gegee vir ’n permit vir Atlantis se Spesiale Ekonomiese Sone (SES).

SES gaan sowat 1 500 werkge­leent­hede in fabrieke en 4 500 in konstruksie skep.

Dit volg nadat ministers Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, verlede week Atlantis besoek het.

Davis en Patel het die meer as 600 inwoners by die bekendstelling verseker dat fabrieke (GRI en Isolar) wie se toekoms tans onseker is, hoog op die SES se prioriteitslys is. Die ministers het dié sake­onder­nemings se probleme glo tot op die “hoogste vlak” bespreek.

Die goedkeuring van die SES-permit volg nadat Saldanha­baai-nywerheidsont­wik­keling­sone (NOS) ook goedgekeur is. Davies sê die NOS sal industriële ontwikkeling langs die Weskus as geheel bevorder.

Die kabinet het die SES-permit van Atlantis Green Technology goedgekeur op voorwaarde dat die plaaslike gemeenskap voorkeur ontvang ten opsigte van werkgeleent­hede en dat entrepreneurskap op klein- tot makrovlak bevorder moet word.

Verteenwoordigers uit Atlantis sal aangestel word en deel van ’n bestuurskomitee wees wat die sone namens die Atlantis-gemeenskap sal help bestuur.

Die doel van SES is om vervaardiging van ‘groen tegnologiese komponente en dienste’ te bevorder. Die vervaardiging van komponente vir sonkrag, infrastruktuur vir windturbines en sonkrag­aangedrewe waterverwarmers asook batterye is van die projekte wat bevorder gaan word.

“SES het reeds sowat 500 direkte werkgeleent­hede geskep om die nywerheidsbeleid wat vir SES geïdentifiseer is na te kom. Die idee is om strategiese ingrypings te hê wat ontwerp is om ekonomiese ontwikkeling te versnel deur groter beleggings, uitvoer­volumes en werkskepping te verseker,” het Davies aan die gemeenskap gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.