Die Atlantis se spesiale ekonomiese sone (SES) is nou amptelik vir handel oop.
Die Wes-Kaapse regering het Donderdag 6 Desember die operateurslisensie van president Cyril Ramaphosa by ’n amptelike seremonie ontvang.
Die Atlantis-SES word gevestig om spesifiek vervaardigers van groentegnologie te lok, soos die Spaanse groep Gestamp wat reeds ’n fabriek vir die bou van windturbine-torings in die Atlantis-SES het.
Van die aansporings vir beleggers in SES behels belastingverligting, asook kwytskelding van sekere wetgewing, sê Ramaphosa.
Ramaphosa het ook plaaslike klein-, medium- en makro-ondernemings aangemoedig om die geleenthede aan te gryp wat die SES gaan bring en het ook gesê plaaslike inwoners moet voorkeur by indiensneming geniet.
Netwerk24 berig die internasionale e-handelsreus, Amazon.com, het belowe hy gaan ’n aanleg in die nuwe Atlantis-SES vestig.
Ramaphosa het Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, en die burgemeester, Dan Plato, bedank dat al drie regeringsvlakke so goed saam kon werk om die SES moontlik te maak.
Die president het ook gesê maatskappye en ondernemings wat nie plaaslik koop nie en eerder produkte na die land invoer se dae is getel.
“Afrika moet vir Afrika vervaardig,” het hy gesê terwyl hy ook inwoners gemaan het om plaaslike produkte te koop.
Zille het op haar beurt gesê: “Atlantis was lank ’n stiefkind vir ekonomiese groei en beleggings in die Wes-Kaap.”
Plato het op sy beurt gesê dit is ’n droom wat bewaarheid is vir inwoners van Atlantis. “Inwoners sal self moet besluit of hulle betrokke wil wees of nie, want geleenthede vir klein- , medium- en makro-ondernemings is nou hier.”
Hy het ook die nasionale regering en provinsiale regering bedank vir die samewerking om die SES ’n werklikheid te maak.
Dr. Rob Davies, minister vir handel en nywerheid, het verduidelik dat die SES ’n adviesraad moet hê. Die bedryfslisensie vir die sone het volgens Davies twee belangrike voorwaardes.
Die adviesraad moet verteenwoordiging uit die gemeenskap en die georganiseerde arbeidsektor hê en plaaslike gemeenskappe en klein- en mikrosakeondernemings moet voorkeur kry vir indiensneming en werkskepping in die sone.
Ramaphosa sê SESe word uitgesoek om naby woongebiede te wees sodat mense nie ure hoef te mors om na en van hul werk te reis nie.