Is polisiebeamptes “untouchable”?
Dít is wat die familie van Dewan Booise (18) van Robinvale wil weet. Booise erken hy het twee jaar gelede ’n polisiebeampte, wat nie aan diens was nie, se selfoon by die berugte Dura-vierrigtingstop gegryp. Sy manewales het later in ’n nagmerrie ontaard.
Booise vertel hy het daardie Saterdagoggend besluit om ’n “dagga-geldjie” te skarrel.
“Ek het die geleentheid gesien toe die man by die stopteken stilhou en sy foon gegryp. Ja, ek was stout en dit was verkeerd, maar wat daarna gevolg het, wens ek nie my grootste vyand toe nie,” vertel hy. Ten tye van die voorval was Booise ’n minderjarige.
“Die man het my herken en later aan die polisie uitgewys, waarna ek die foon gaan haal het. Maar dit was nie genoeg vir hom nie,” vertel hy.
“Die man en ander mense het my na die polisieselle geneem en goed pak gegee. Ek het gedink hulle is klaar met my toe die man, ’n polisieman wat nie aan diens was nie, my uit die selle geneem en in sy private bakkie gelaai het. Ek het regtig gedink hy neem my huis toe, omdat hulle my lekker pak gegee het. Ek het my boeglam geskrik toe hy my Witsand toe vat en in ’n hokkie toesluit,” sê hy.
“Minute later het ’n klomp mense met sambokke opgedaag, en die polisieman het die boendoe-hof begin. Daarna het die houe gereën. Dit was net genade wat my gered het,” reken hy.
Booise sê hy het net-net uit “die kloue van die dood” ontsnap.
Volgens Booise se tante, Lydia Booise van Riebeek-Wes, het sy hom nou onder haar sorg geneem, maar dit gaan moeilik. “Die letsels van die aanranding is steeds sigbaar op sy liggaam en het hy reeds ’n operasie aan sy oog ondergaan, met ’n tweede wat binnekort volg. Ons sukkel ook nou reeds byna twee jaar om antwoorde uit die polisie te kry,” vertel sy.
Sy sê ’n klagte is by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (OPOD) aangemeld, “maar hulle kan nie ons vrae beantwoord nie”.
Lizzy Duping, ’n woordvoerder van Opod, het teen druktyd nie op Weskus Nuus se navrae reageer nie. Sy het wel meer besonderhede aangevra wat aan haar voorsien is.