’n Gesin is in rou.

’n Familie-uitstappie op ’n warm dag het vir ’n gesin van Coral Place-woonstelle op ’n tragiese manier geëindig.

Crystal Joubert (34) het saam met haar kinders en vriende van MyCiti se gratis vervoer gebruik gemaak en Sondag 29 Oktober vir ’n uitstappie na Melkbosstrand gegaan.

Die familie moes egter Sondagaand sonder hul oudste seun Joshua (14) terugkeer nadat hy verdrink het.

Volgens ouma, Lynette Joubert (55), wat tuis was toe die voorval gebeur het, het die oproep net na 15:00 gekom dat haar kleinseun verdrink het.

“Elkeen het sy eie weergawe van wat gebeur het, maar van wat ek kan aflei is dat ’n oom Joshua gevra het om sy hoed, wat afgewaai het, in die water te gaan haal. Hy het seker tussen die bamboes vasgesit.”

Crystal was te emosioneel om met Weskus Nuus te praat.

Ten spyte van pogings deur noodpersoneel insluitend die NSRI, Lifesaving South Africa, munisipale wetstoepassers en polisie, is Joshua se liggaam teen druktyd nog nie opgespoor nie.

Die Joubert-familie was gisteroggend met Weskus Nuus se besoek ook onderweg na Melkbosstrand om na Joshua, ’n leerder van die Robin Hill skool vir kinders met spesiale behoeftes, se lyk te gaan soek.

Konst. Debi Alard, woordvoerder by die Melkbosstrand-polisie, het bevestig dat ’n 14-jarige seun ongeveer 16:30 by die hoofstrand verdrink het.

“Die soektog na die vermiste seun is omstreeks 19:00 afgelas weens swak lig en is Maandagoggend weer deur lede van die polisie se duikeenheid hervat,” het Alard gesê.

Intussen het die Stad Kaapstad ook besluit om die publieke swembad in Atlantis se tye te verkort weens vlak 5-waterbeperkings.

Die Atlantis-swembad sal een van 12 uit die 35 swembaddens in die metro wees wat tussen 1 Desember en 31 Januarie tussen 10:00 en 16:00 sal oop wees.

Raadsheer JP Smith, burgemeesterskomitee­lid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, het inwoners aangemoedig om gebruik te maak van strande in die somer­maande en het gesê wetstoepas­sers en lewensredders sal aan diens wees om na mense se veiligheid om te sien.

You need to be Logged In to leave a comment.