As die ontwikkelaars hul sin kry, gaan die buurplaas van die immergewilde Silwerstrand-oord in ’n kusdorp ontwikkel word.
Volgens ’n omvangsbepalingsverslag van Doug Jeffery Environmental Consultants het Springfontein Estate (Pty) Ltd aansoek gedoen om die plaas, Groote Springfontein, langs die Silwerstroomstrand-oord te ontwikkel. Volgens dié verslag is die visie vir die groter Silwerstroomstrand-perseel die vestiging van ’n nuwe kusdorp wat “geleenthede bied vir behuising, werk en ontspanning vir inwoners van Atlantis en omliggende gebiede”. Die ontwikkeling sal glo nie die gewilde vakansieoord beïnvloed nie en volgens die verslag is die idee om die ontspanningsgeriewe te behou en om voortgesette toegang en genot van die kus te verseker. Die ontwikkeling van die plaas van 1 205 hektaar, wat tans in privaat besit is, sal volgens die verslag die toerismebedryf ’n aansienlike hupstoot gee. Behalwe behuising sal daar ook ’n hotel en ander oornaggeriewe gebou word. Die verslag stipuleer duidelik dat alles moontlik gedoen sal word om nie die natuur en plantegroei te versteur nie en wandelpaaie sal gebou word. Volgens die verslag is werksessies met die gemeenskappe van Atlantis en Mamre reeds in 2008 gehou en die Blaauwberg District Plan and Cape Town Spatial Development Plan (CTSDP) is deur die gemeenskappe aanvaar.
Volgens Clarence Mentor, voormalige voorsitter van die forum van Atlantis-RDP, is dit baie vreemd dat dinge nou skielik só vinnig gebeur. Volgens Mentor het die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsforum reeds van 2005 tot 2007 die moontlikheid van ontwikkeling van dieselfde plaas ondersoek.
Hy sê ook deel van die planne was om ’n hawe en behuising te ontwikkel. Volgens Mentor het die administratiewe rompslomp die planne in die wiele gery, maar wat hom kwel, is dat dié aansoek byna soortgelyk as die een van destyds was.
Mentor het in sy beswaar gevra dat die ontwikkelaars hulself moet bekendstel aangesien daar geen rekord van die maatskappy is nie. Hy sê ook hy weet nie van die openbaredeelnameproses waarna daar in die verslag verwys word nie.
Belangegroepe het kans tot Maandag 4 Maart om hul vertoë aan lindsay@dougjeff.co.za te rig.