Francis Brown, oftewel, Sis Kippie, soos sy geliefd in die Atlantis-gemeenskap bekend staan reik eersdaags haar eerste CD uit.
Die 64-jarige sanger sing reeds haar hele lewe lank, maar het op die ouderdom van 60 jaar aan die ATKV-liedjieslypskool deelgeneem nadat sy hul oudisie in Atlantis bygewoon het.
Die eerste liedjie wat sy geskryf het, Kan jy my hoor, is vir haar man van 43 jaar, Ebrahim Kippie of Oupa, soos sy hom noem geskryf. “Hy is die liefde van my lewe, die pa van my kinders,” vertel sy met ’n glinster in haar oog.
Sis Kippie sê om liedjies te skryf, is vir haar tweede natuur, want sy het altyd ’n lied in haar kop.
Sy sing reeds van ’n jong ouderdom en het destyds aan kompetisies soos Shell Road to Fame deelgeneem.
Oupa het haar aangemoedig om iets vir “haar mense” te skryf en die lied, Bruin kind, is gebore.
“Die lied vertel ’n storie van waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is,” sê sy. Met behulp van die ATKV is daar ook ’n musiekvideo vir die lied opgeneem in die Dura-woonstelle, waar Sis Kippie woon. Dié video is op YouTube beskikbaar.
Sis Kippie is tans besig om te werk aan haar eerste vollengte album getiteld, Bruin kind. Dit bestaan uit sewe oorspronklike liedjies uit haar eie pen.
“Dit is ’n groot belewenis om liedjies in die studio op te neem. Dis ook harde werk, want alles moet perfek wees,” vertel Sis Kippie.
Sy het ook baie druk ervaar die afgelope tyd met opvoerings, Oupa wat skielik siek word en ander verpligtinge, “maar ek druk maar deur”.
Kom luister na liedjies uit Sis Kippie se pen met die bekendstelling van Bruin kind Saterdag 28 Oktober by die Dollies-sentrum.
Hekke open 15:00 en kaartjies kos slegs R60 of R100 met ’n CD ingesluit. Bel 084 984 9613 vir meer inligting.