Skaafwerk wag vir Atlantis

Atlantis-rugbyklub het Saterdag in sy eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen teen die span van Morning Star op sy tuisveld met 5-27 vasgeval.


Atlantis-rugbyklub het Saterdag in sy eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen teen die span van Morning Star op sy tuisveld met 5-27 vasgeval.

Die tuisspan wat meeste van die verdediging moes doen, kan net homself blameer dat hy nie die geleenthede gebruik het wat geskep is nie. Die besoekers wat rustyd met 15-0 voor was, het die tuisspan se verdediging tot die uiterste beproef en meeste van sy punte teen die verloop van die spel aangeteken.

Atlantis se voorspelers het aansienlik gesukkel in die skrums, maar het stelselmatig weerstand gebied. Die tuisspan wat tans ’n instaan-afrigter het, sal egter aan die spelers se fiksheid moet werk. Spelers het stadig by die afbreekpunt aangekom en veral die voorspelers sal hard aan hul fiksheid moet skaaf.

Met Atlantis wat sy WP-ligaverpligtinge 6 April begin, het die afrigtingspan genoeg tyd om aan die spelers se fiksheid en vaardighede te skaaf. Met die span se agterspelers wat goed verdedig het, het die dissipline bietjie gelol. Atlantis pak Vrydagaand die gedugte Hamlets in Mamre en dis in die stadium duidelik dat die afrigtingspan die regte kombinasies wil vind.

Die wedstryd sal ook Hamlets se eerste wedstryd van die seisoen wees en die span van Gavin Passens sal ook sy voorbereiding goed wil afskop. Hamlets het in die verkorte seisoen verlede jaar sesde in die WP-superliga B geëindig en sal die seisoen weer op al sy silinders wil vuur.

Reuben Abels se Young Hearts van Pella onthaal die span van Clanwilliam eerskomende Saterdag in sy eerste vriend­skaplike wedstryd van die jaar. Alle oë sal die seisoen op die jong opwindende span van Abels wees aangesien die nuwelinge verlede seisoen rugbytonge los gehad het. Met Boland-ligaverpligtinge wat net na die Paasnaweek afskop, sal Pella beslis goed voorbereid wil wees.

Mamre het Saterdag in sy eerste vriendskaplike wedstryd van die seisoen die gedugte Hands and Hearts van Kraaifontein in ’n wegwedstryd gepak. Mamre wat wel die aftog met 17-45 geblaas het, kan egter tevrede voel met sy vertoning. Die groen truie van Mamre sal beslis die seisoen goeie rekenskap van hulself gee en dit maak die vooruitsigte vir die Boland-Grootuitdaag-Weskusstreek baie interessant.

You need to be Logged In to leave a comment.