Mendl Lategan, Marilee van der Merwe en William Constables bied dié vakansie ’n skaakskool by die Wesfleur-biblioteek aan.


“Die keuses wat jy in die lewe maak, bepaal die rigting waarin jou lewe gaan en watter impak dit op jou sal maak.”

Só meen Mendl Lategan, voormalige Boland-skaakspeler wat saam met twee Atlantis-inwoners saamgespan het om ’n skaakskool op die been te bring.

Mendl, Marilee van der Merwe en William Constable het besluit om vier gratis klasse in die Junievakansie by Wesfleur-biblioteek aan te bied.

Twee van die klasse is gemik op laerskoolleerders, graad 6 en 7, met hoërskoolleerders wat die ander klasse sal vol maak.

Elke kurses duur ’n week en elke leerder wat hul klasse voltooi, sal ’n sertifikaat ontvang.

“Skaak verbeter konsentrasie. Navorsing toon ook dit verhoog die IK. In die toekoms sal die skool ook afrigting en loopbaanvoorligting­werksessies aanbied om die leerders verder te ontwikkel,” sê Van der Merwe, hoofafrigter.

Elke kurses kan slegs 20 leerders huisves en registrasievorms is by die biblioteek se ontvangs beskikbaar.

Die skaakskool beoog ook om skaaktoernooie op ’n maandelikse basis vir Atlantis-skole aan te bied.

Die organiseerders meen só kan ’n liefde vir skaak aangewakker word en ook om in die toekoms Atlantis se eie grandmaster, wat die hoogste vlak is wat enige skaakspeler kan bereik, op te lewer.

Van der Merwe sê op die oomblik maak hulle van Wesfleur-biblioteek gebruik om skaakwedstryde te hou, want hulle is nog op soek na hulle eie plek.

Die biblioteek se skaakborde word ook gebruik, maar hulle beoog om vir elke skaakspeler hul eie skaakbord te verskaf.

Om dit ’n werklikheid te maak, het dié groep egter hulp van die gemeenskap en beleggers nodig vir geldelike bystand.

You need to be Logged In to leave a comment.