Die volgende Picasso kan dalk uit Atlantis kom.

Danksy ’n skenking deur Funkez Kreations aan leerders van Grosvenor Primêr kan die kunstalente van leerders nou ontgin word.

Die Lungile Mtshotwane-stigting het verf, boeke, kwaste en ander kunsbenodigdhede ter waarde van R7 500 aan Funkez Kreations geskenk.

Carl Erasmus, stigter van Funkez Kreations, was verheug oor die meevallertjie en meen dit sal die projek help om “nuwe hoogtes te bereik”.

Erasmus sê hy het met dié projek verlede Januarie begin nadat hy gesien het sy seun en dié se vriende stel in kuns belang. Hy het die skool genader oor ’n kuns-inisiatief.

Die leerders het só ontwikkel dat Erasmus, nou ’n jaar later, die jong kunstenaars help om muurskilderye te teken.

Danksy betrokkenheid by die Game Changer-projek word klasse nou ook by Hoër Tegniese Skool Proteus aangebied.

Erasmus beoog om in 2019, met behulp van die Lungile Mtshotwane-stigting, ’n kunsskool te open waar gemeenskapslede gratis kan aansluit.

Hy meen dit sal ’n positiewe impak op die gemeenskap hê, gesien daar geen kunsklasse in Atlantis is nie.

Volgens Fiona Abrahams, direksielid van dié stigting, wil die organisasie graag meer betrokke raak by gemeenskapsprojekte soos Funkez Kreations.

You need to be Logged In to leave a comment.