Andrew Hendricks het verlede Dinsdag (20 Junie) ’n tweede keer as ’n vry man uit die hof gestap nadat hy op ’n aanklag van moord vrygespreek is.
Landdros PW Da Rocha-Boltney het Hendricks vrygespreek ná die moord op die atleet Valentino Williams, wat in Augustus 2017 ’n hanetree van sy ouerhuis in Robinvale koelbloedig afgemaai is.
Da Rocha-Boltney het in haar uitspraak gesê die polisie kon nie bo redelike twyfel bewys dat die verdagte op die noodlottige dag nie in Graaff-Reinet was soos hy getuig het nie. Volgens die landdros het die polisie wel die adres in Graaff-Reinet besoek, maar het nie verklaring van die verdagte se tante verkry nie.
Hendricks is wel deur ’n staatsgetuie op die toneel geplaas.
Volgens die landdros het die getuie, wat langs die oorledene gesit het toe die vermeende skieter net begin losbrand het, die skieter as Hendricks herken omdat hy en Hendricks se jonger broer vriende is. Da Rocha-Boltney sê egter die swak ondersoekwerk kon nie die teendeel bewys nie en die verdagte die voorkeur van twyfel gegee.
Hendricks is ook in die Kaapse hooggeregshof onskuldig bevind weens die moord op die tweejarige Brayden Graaf in Oktober 2016, wat geskiet is terwyl hy op sy ma se skoot gesit het toe skieters begin losbrand het terwyl mense rustig in die Bablers Place-woonstelle gekuier het. Brayden is in die sy getref en is later by die hospitaal deur mediese personeel dood verklaar.
Regter Thandazwa Ndita het destyds in haar uitspraak gesê sy was nie oortuig dat Hendricks by die beplanning of uitvoering van die moord op die tweejarige betrokke was nie en hom vrygespreek.