Inwoners van Saxon Sea het Saterdag (14 Januarie) tydens ’n gemeenskapvergadering besluit genoeg is genoeg en met een stem besluit hulle piemp nou.
Volgens die wyksraadslid Allister Lightburn, wat die vergadering op aanvraag van die gemeenskap gelei het, is dinge in die gebied besig om hand uit te ruk. Hy het die inwoners aangemoedig om hul strate terug te eis.
Inwoners het tydens die vergadering gesê dit is die jongspan wat inwoners met hul geskietery gyselaar hou.
“Ek gee nie om of dit my kind of my suster of broer se kind is nie, maar dit gaan nou stop,” het een inwoner geëis. Sy wou om veiligheidsredes nie haar naam genoem hê nie. Inwoners was dit eens – dit maak nie saak wie dit is wat moeilikheid maak nie, hulle sal nou uitpraat. “Ons moet ophou ons kinders beskerm, en dit gaan ook nou stop,” het een gesê. Volgens ’n pensioentrekker leef sy nou in vrees in ’n gebied wat “vir jare vreedsaam was”. “Ek gaan ook nie langer my mond hou nie en gaan gewis getuieverklarings aflê.”
Volgens kapt. Shawn Smith, wat die polisie by die vergadering verteenwoordig het, is een van die grootste probleme in misdaadbekamping inwoners wat nie wil saamwerk nie en weier om getuieverklarings af te lê.
Die jongste oproerigheid het begin toe vier jeugdiges – tussen 13 en 17 jaar oud – Saterdag 7 Januarie in uitbreiding 13 tydens ’n skietery gewond is. Volgens Weskus Nuus se bron het die skieters van agter ’n wendyhuis op die slapende jongmense losgebrand. Volgens die bron was die voorval bendeverwant.
Donderdagaand 12 Januarie is nog twee mans in ’n skietery gewond.
Volgens Twigg is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Inwoners het besluit ’n komitee moet gekies word en daarna gaan bendeleiers trompop geloop word om “hul nonsies te los”, het die inwoners gewaarsku.