Robinvale Sekondêr het in die maand van liefde ook sy 30ste verjaardag gevier.
Die skool, wat sy deure in 1988 met 167 leerders en nege personeellede geopen het, se leerdertal het sedertdien tot 1 200 gegroei. Daar is ook deesdae 50 personeellede.
Leerders moes ook destyds hul laerskooluniform dra omdat die skool nog nie sy eie uniform gehad het nie.
Volgens Vaughan Murry wat die leisels in 2003 by Quinton Pick oorgeneem het, was Robinvale die eerste skool in Atlantis wat rekenaars gekry het om leerders en inwoners rekenaaropleiding te gee.
Hy sê voorts die skool se streng dissipline en goeie slaagsyfer was deur sy voorgangers gestel en hy bou net voort op die goeie grondslag wat gelê is.
“Die skool het sy bydrae gelewer met akademiese presteerders sowel as sportmanne en -vroue wat die hoogste sport bereik het,” sê Murry.