“Ek moes die vernedering en minagting verduur van ’n gemeenskap vir wie ek net my beste gegee het.”
Só sê ’n voormalige skoolhoof van Atlantis ná hy onskuldig bevind is op agt aanklagte van bedrog en sy naam weer in ere herstel is.
Quinton Pick (52), ’n voormalige skoolhoof van Robinvale, het in 2006 ’n maatskappy, TCSA (Training and Conference Solutions Africa), saam met vennote gestig. Dié maatskappy het opleiding aan staatsamptenare gebied.
Pick sê die doel van die maatskappy was om opleiding, konferensies en seminare te reël en om sommige beleggers van die Atlantis-gemeenskap te bemagtig deur vir hulle die “geleentheid van ’n leeftyd” te bied. Volgens Pick het die maatskappy van krag tot krag gegaan en het ook ’n kantoor in Johannesburg geopen.
Dinge het egter ’n jaar later begin lol toe kleiner beleggers, wat honderde duisende belê het, hul geld gesoek het.
Hy sê voorts dat hulle gereeld in gesprek was met hul groter beleggers, maar die plaaslike kleiner beleggers wou nie verstaan nie en het hul geld geëis.
Volgens Pick het hy en nog twee direkteure, André Maggerman en Kosie Swarts, in 2008 dagvaardings gekry. Swarts het later staatsgetuie gedraai en hy en Maggerman moes toe hul man staan.
“Ek het later daardie jaar ’n posisie as ’n uitvoerende hoof in Port Elizabeth aanvaar en moes vir bykans vier jaar maandeliks Kaap toe vlieg om hofverrigtinge by te woon,” vertel hy.
“Dis honderde duisende rand later, maar is beslis elke pennie werd, want niks is vir my so kosbaar soos die feit dat my naam in ere herstel is nie,” vertel ’n verligte Pick wat deesdae weer ’n skoolhoof by ’n Kaapse skool is.
Pick en Maggerman is op 4 April vanjaar in die Bellville-handelshof onskuldig bevind op alle aanklagte van bedrog.