Skote klap by partytjie

Twee jong mans is dood en vier ander gewond toe skieters op ’n groep partytjiegangers in Mortimerstraat, losgebrand het.


Twee jong mans is dood en vier ander gewond toe skieters op ’n groep partytjiegangers in Mortimerstraat, losgebrand het.

Die voorval het Saterdag 2 Desember in die vroeë oggendure gebeur.

Sameul Abrahams (25) is op die toneel dood terwyl Henrico Markus (18) met sy aankoms by die Wes­fleur-hospi­taal dood verklaar is. Volgens ’n tante van Abrahams (wat verkies om anoniem te bly), het hy en nog vriende by sy neefs in Mortimer­straat gekuier en het ook by die partytjie aangesluit.

Die tante vertel dat sy onrustig was hulle teen 00:30 nog nie tuis was nie en het by die venster uitgeloer en gesien die span kuier nog by die bure.

“Ek het net op die bed gaan sit toe die skote begin klap. Alles was in ’n oogwink verby,” vertel sy hartseer.

Volgens die vrou het die vriende almal bo-op mekaar gaan lê om mekaar teen die skieters te beskerm. Volgens ’n polisiebron was daar 17 skote op die partytjiegangers gevuur, maar dit is steeds onduidelik hoekom daar op die groep losgebrand is.

Die bron sê voorts, dat die twee oorlede­nes wel in die berugte Dura-woonstelle gewoon het, maar het nie aan ’n bende­groep behoort nie en het met almal gemeng, “maar dit kon dalk van hulle teikens gemaak het”.

Weskus Nuus het ook betroubaar verneem dat een van die oorledenes ook ’n getuie in ’n saak was. Drie van die gewondes is reeds uit die hospitaal ontslaan, terwyl een wie glo in die gesig geskiet is steeds vir sy beserings behandel word.

Volgens polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, word klagte van moord en poging tot moord ondersoek en kon hy nie gerugte bevestig dat twee verdagtes vasgetrek is nie.

Volgens Van Wyk was die groep wat gekuier het tussen 16 en 25 jaar oud en omstandighede rakende die voorval word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.