Atlantis se strate word weer met bloed bevlek soos die skote hiér klap.
Vier mense is verlede week in afsonderlike voorvalle afgemaai. In die eerste voorval verlede week is Ashley Bowers (33) in die vroeë oggendure ’n hanetree van sy huis in Heathfield doodgeskiet.
Bowers en sy makkers het glo gedobbel toe onbekende mans uit die teenoorgestelde rigting gestap het en net op hulle begin losbrand het.
Bowers, wat gesukkel het om te stap, kon nie die koeëls ontsnap nie en is op die toneel aan sy wonde oorlede.
Niemand is nog in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie.
“Polisie is egter proaktief en in ’n misdaadvoorkoming-operasie. Verlede naweek het die Atlantis-polisie op twee vuurwapens beslag gelê,” het ’n woordvoerder gesê.
Atlantis was die afgelope tyd baie rustig vóór die skote skielik weer woes begin klap het.
Caleb Prince (26) is Woensdag 17 April helder oordag voor sy hek in Clipperstraat Saxonsea afgemaai.
Volgens omstanders op die toneel het die rustige Prince in die son gestaan toe die verdagtes op hom losgebrand het.
Prince is in sy kop getref en het in die pad gesterf. Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is geen verdagtes vir Prince se moord in hegtenis geneem nie.
In nog n voorval is ’n 22-jarige man Saterdagaand 20 April by ’n partytjie in Narinastraat, Protea Park afgemaai nadat die skieters hom glo vir ’n geruime tyd dopgehou het.
“Die verdagtes het glo die man fyn dopgehou,” vertel ’n bron. “Die oorledene is by die hek doodgeskiet nadat sewe skote op hom gevuur is.”
In die jongste voorval Sondagoggend is Elroy Jacobs in Uitbreiding 13 afgemaai. Jacobs wat by ’n winkel gestaan het toe drie mans op hom begin losbrand, het op die toneel aan sy wonde beswyk. Volgens omstanders op die toneel het die skieters rustig van die toneel gestap.
Volgens kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, word die saak nog ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie.