’n Verdagte in die Mamre-sleepmoordsaak is borg toegestaan.
Ashwin Saayman (26) is tydens ’n insident in die vroeë ure van Sondag 18 Desember, in Mamre se Hoofweg omtrent 400 m ver gesleep, terwyl hy aan ’n bewegende voertuig gehang het. Hy het die volgende dag in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die verdagte, Myron Krus (26), het homself twee dae later aan die polisie oorgegee en het Dinsdag 3 Januarie in die Atlantis-landdroshof verskyn, waar hy borg van R5 000 toegestaan is.
Mamriete en familielede van die oorledene, was duidelik ontsteld met die landdros se besluit.
Die oorledene se ma, Augustine, het aan Weskus Nuus gesê sy is teleurgesteld in die landdros se beslissing.
“Ons het ’n petisie aan die ondersoekbeampte oorhandig, waarin ons vra dat borgtog teengestaan word. Ons is teleurgesteld.”
Saayman sê verder, haar seun was ’n geliefde mens in die gemeenskap en kranige rugbyspeler en het nie verdien om so te sterf nie. Krus ver-skyn weer 10 Maart in die hof.