Die MyCiTi-busroete na die Silwerstroom-strandoord het die afgelope feestyd gemengde welslae behaal.
Só meen Felicity Purchase burgemeesterskomiteelid van vervoer vir die Stad Kaapstad. Die eerste bus het Saterdag 15 Desember gery en slegs twee mense het die rit meegemaak. Volgens haar was die eerste week baie stil, maar meer mense het begin gebruik maak van dié diens.
Sy sê voorts die laaste drie dae voor Nuwejaarsdag was die besigste. Purchase sê ook die doel van die projek was om te bepaal of daar wel ’n behoefte vir die roete is gedurende die feestyd en ook om te kyk of die roete jaarliks gebruik gaan word en om dit dalk verder uit te brei na skoolvakansies.
Sy sê dit is nog te vroeg om te bepaal of dit wel ’n sukses was omdat inligting nog verwerk word.
Volgens die proporsionele ANC-raadslid, Fiona Abrahams, wat die mosie ingedien het vir die roete, het baie mense eers hul Kersinkopies gedoen en daarom verstaan sy dat nie baie mense van die diens gebruik gemaak het in die eerste paar dae nie. Sy sê ook mense het later gewoond geraak aan die idee dat die bus wel na die strand ry.
Ontevrede Mamre- en Pella-inwoners het ook hul stemme laat hoor en sê hulle moes eers ’n bus na Atlantis neem om die bus na Silwerstroom-strandoord te haal omdat die busroete nie hierdie dorpe ingesluit het nie. Purchase sê omdat dit ’n loodsprojek was, is daar besluit om die roete uit Atlantis te begin. Sy sê die roete word tans hersien om die behoefte te bepaal en ook wat die finansiële implikasies van die projek is voordat ’n finale besluit geneem kan word.