Die storm oor die sogenaamde “sletlys” van Atlantis wat op sosiale media versprei is, het nou in ’n moddergooiery ontaard.
Volgens een van die slagoffers wie se naam ook op die lys verskyn, ’n 18 jarige seun, word hy nou met die dood en verkragting gedreig.
Hy vertel dat lasterlike, onware skinderstories van hom versprei word.
“Ek moet oral hoor ek is ’n vuil moffie en het seks met amper almal in die skool gehad. Ook wat hulle alles aan my gaan doen as hulle my kry. Ek is maar skrikkerig om iewers heen te loop, want die mense is ernstig om my seer te maak,” het die bekommerde jong man aan Weskus Nuus gesê.
“Ek het reeds my vriende verloor en van my familie weier nou om met my te praat,” vertel hy hartseer.
Nog ’n slagoffer se ma vertel dat haar dogter ook erg onder die kuberboelies deurgeloop het.
Die hartseer ma vertel dat haar kind moes hoor dat hulle haar “reg sal seks sodat sy nie meer ’n lesbiër sal wees nie”.
Dit het intussen aan die lig gekom dat die vangnet al nouer om die groep span wat moontlik die lys opgestel het.
Volgens ’n polisiebron is agt mense deur die polisie vir ondervraging ingeneem. Daar is ook glo op verskeie selfone beslag gelê, maar dit kon nie bevestig word nie.
Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk ondersoek die polisie klagtes van naamskending (crimen injuria) en het ouers gemaan om hul kinders na die polisiekantoor te neem sodat verklarings geneem kan word.
Ondersteuningsgroepe is ook woedend omdat die departement van maatskaplike dienste glo gesê het hy gaan help met berading vir slagoffers, maar op die oog af is baie min van die departement se kant af al gedoen.
Sihle Ngobese, woordvoerder van die departement het op navrae gesê die streekskantoor is besig met die reël van berading, maar hierdie kantoor het Weskus Nuus weer na die departement se kantoor verwys.
Dreigemente dat huise en huwelike ook opgebreek sal word, is nou besig om gestalte te kry. Volgens een van die slagoffers se ma, is haar huwelik op die rotse sedert die lys sy verskyning gemaak het en praat haar man sedertdien glad nie meer met haar nie. Hy het glo reeds aangedui hy gaan uittrek. “Dit is regtig hartseer dat ’n pa glo wat van sy kind gesê word. Hy glo eerder die kwaaddoeners as sy eie kind,” het die ma met huil in haar stem vertel.