Goedverwacht se gewilde Snoek-en-patatfees word Vrydag 28 en Saterdag 29 Junie in dié sendingdorpie gehou.
Moenie die kans om smullekker kontreikos te geniet, misloop nie. Die gewilde Snoek-en-patatfees word weer in Goedverwacht, die mooi Morawiese sendingdorpie naby Piketberg, gehou.
Die braaivure sal weer aangesteek word vir die snoek, gebakte patats en vars soetsuurdeegbrood met korrelkonfyt.
Dít is maar net ’n paar van die lekkernye wat besoekers se smaakkliere by vanjaar se Snoek-en-patatfees op Goedverwacht op ’n Weskus-winteravontuur sal neem.
Die fees word Vrydag 28 en Saterdag 29 Junie gehou, en benewens die ongelooflike trekpleisters het die organiseerders ’n program met uithalervermaak aanmekaargesit.
Plaaslike opkomende en gevestigde kunstenaars soos Karin Kortjé, Chandré en Vit07 sal hier kom optree met die internetsensasie Bouncy as seremoniemeester.
’n Naweekpas kos R130 en sluit albei danse en Saterdag se vertonings in.
’n Dagpas kos R90 vir grootmense en sluit toegang tot die terrein en vertonings die Saterdag in. Toegang vir kinders tussen 6 en 12 jaar oud kos R30. Etekaartjies kos R60. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die koffiewinkel in Goedverwacht.
Vir navrae of bespreking van stalletjies, skakel 021 903 8127 of 071 889 1121 of stuur ’n e-pos na tourism@goedverwacht.com.