Die ligaprogram van die Atlantis-sokkervereniging sal hierdie Saterdag 17 Junie amptelik begin.
Verlede Saterdag het die Stad Kaapstad, Safa Kaapstad versoek om alle wedstryde te kanselleer weens die gure weer.
Verlede seisoen se kampioen Aberdeen pak Atlantis Arsenal in een van die hoofwedstryde om 17:00, terwyl die opwindende Atlantis City teen Jomos Power speel. ’n Ander wedstryd wat ook 17:00 gespeel word, is Atlantis Leeds United teen die nuweling in die Premierliga, Pella Sporting. Dit gaan ’n titaniese stryd wees.
Die ander Premierwedstryde word om 15:30 afgehandel: Wesfleur teen Chatsworth Rising Stars en Robinvale Spurs teen FC Bayern. ’n Rugbytelling word tussen Wesfleur en Chatsworth Rising Stars verwag terwyl die immergroen Robinvale Spurs dalk te sterk vir Witsand se FC Bayern sal wees. Die juniors begin 09:00 speel.