Sokkervereniging van Atlantis se liga skop af

Sokkervereniging van Atlantis se liga skop af


Is Aberdeen en Robinvale Spurs se dae as kampioene in die Atlantis Sokkervereniging-liga hierdie seisoen getel?

Albei spanne is egter nog van die groot kanonne in die liga en sal wil bewys dat hulle nie van hul troon sal afskeid neem wanneer die liga hierdie naweek begin.

Dit is nog nie bevestig of Aberdeen ’n paar huursoldate van Jomos Power sal ontvang nie.

Die Jomos-spelers het verlede seisoen Aberdeen se span versterk en sal hul kanse verbeter om weer die liga-kampioene te wees. Daar is ook vele talentvolle jong spelers wat deur hul junior program kom, wat die span sal versterk.

Jerome February se Robinvale Spurs is egter gewoond daaraan om met jong talent te woeker, en sal vir seker van die voorbokke wees. Die span het ook ’n goeie ondersteunersbasis en speel gewoonlik goeie sokker as hulle deur die ondersteuners aangepor word. Die span het beslis ’n goeie kans om as kampioen gekroon te word, mits hulle regdeur die seisoen hul momentum kan hou.

Atlantis City het nie groot name wat vir hulle speel nie, maar is beslis ’n span om mee rekening te hou. Dié klub is ook vanjaar 40 jaar oud en sal wil wys dat hulle die Paasnaweek-toernooi kampioen is. Mario Avontuur is die span se nuwe afrigter en dit kom voor asof hulle die beste voorbereid is.

Nog ’n klub wat goeie spanwerk toon is Wesfleur. Op sy dag kon hulle almal klop en baie spanne is bang vir hul sokkervernuf, maar dis ook egter ’n span wat nooit die hele seisoen enduit speel nie.

’n Nuwe span in die Premier Liga is Pella Sporting. Die span speel opwindende sokker, maar is nog baie onervare. Hulle kan egter skok-uitslae veroorsaak.

Die twee Witsand-spanne, Arsenal en Bayern, sal ook ’n middelmagtige seisoen beleef. Albei speel goeie sokker, maar sukkel altyd om oor die lyn te kom, weens swak dissipline. Hulle sal moet leer om as ’n eenheid saam te werk.

Atlantis Leeds en Jomos Power sal meesal onervare jongelinge gebruik wat hulle vir die toekoms slyp. Groot spanne sal hulle klop, maar nie oor hulle loop nie. Die span van Chatsworth, Rising Stars, maak ook sy debuut in die Premier Liga. Die span moes beslis nog in die Eerste Liga meegeding het en sal heel moontlik die slaansakke van die liga wees.

You need to be Logged In to leave a comment.