Span hou beste vir laaste

Mamre het Saterdag 15 September sy beste vir laaste gehou toe die span Paternoster in sy laaste ligawedstryd van die seisoen met 54-29 afgeransel het.


Mamre het Saterdag 15 September sy beste vir laaste gehou toe die span Paternoster in sy laaste ligawedstryd van die seisoen met 54-29 afgeransel het.

Die groen truie, wat die wedstryd met ’n bonuspunt moes wen om in die topliga te bly, het nie sy ondersteuners teleurgestel nie en in die agtste plek geëindig wat goed genoeg is om dáár te bly.

Mamre het in die eerste helfte van die wedstryd erg gesukkel en te veel hanteer­foute het byna ’n bitter smaak in sy ondersteuners se mond gelaat.

Die tuisspan wat die eerste helfte met 14-5 voor was, het egter ná harde woorde in die kleedkamer deur afrigter Graig Schoeman na ’n höer rat oorgeskakel en die besoekers moes keer vir al wat hul werd is en het 40 punte in die laaste helfte aangeteken.

Mamre het in die laaste 15 minute sy voet van die versneller gehaal en dit het die besoekers kans gegee om self punte aan te teken.

Die tuisspan se losvoorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê met hul kragtige dryfmaalbewegings.

Die span, wat eens ’n krag in Boland se topliga was, sal die afgelope seisoen deeglik moet ontleed as hy volgende seisoen enigsins ’n impak wil maak. Die groen truie wat slegs vyf van sy 16 wedstryde kon wen, het saam met Langebaan en Hopefield met 29 punte geëindig. Langebaan en Mamre bly aan in die Grootuitdaagreeks terwyl Paternoster in die streekuitdaag sal speel.


. Hamlets-rugbyklub moet Saterdag 21 September in sy laaste Westelike Provinsie se Super Liga B-wedstryd die span van Pniël met meer as 47 punte klop om in die topses vir promosie mee te ding. Dit gaan baie moeilik wees, maar tog nie onmoontlik nie.

Die span het Saterdag (8 September) die span van Kuilsrivier naelskraap met 33-32 geklop en het ’n week later Vineyards van Paarl in ’n wegwedstryd met 38-29 geklop om sy kanse lewendig te hou.

Hamlets wat ’n baie frustrerende seisoen gehad het weens die droogte, het steeds die beste daarvan gemaak ten spyte dat hy nie altyd toegang tot oefengeriewe gehad het nie. Met slegs die topses-kompetisie wat hierdie jaar plaasgevind het word spanne wat tweede laaste en laaste eindig outomaties gerelegeer.


. Atlantis het sy seisoen op ’n hoë noot afgesluit toe die span in ’n wegwedstryd die span Titans van Grassy Park met 26-17 geklop het om die seisoen in die sesde plek te eindig.

Atlantis sal volgende seisoen weer in die Westelike Provinsie Suidelike liga speel.

You need to be Logged In to leave a comment.