Spanne kry hulself gereed vir seisoen

Met die nuwe rugbyseisoen op hande is Hamlets, Mamre, Atlantis en Pella hard besig met voorbereidings.


Met die nuwe rugbyseisoen op hande is Hamlets, Mamre, Atlantis en Pella hard besig met voorbereidings.

Hamlets het reeds aan verskeie sewestoernooie deelgeneem en is ook die Young Tigers-seweskampioen vir 2019. Die span van Gavin Passens, wat weer die seisoen die leisels gaan oorneem nadat hy die tuig in 2017 neergelê het, speel sy eerste vriendskap­like wedstryd teen Atlantis 1 Maart. Hamlets het sesde in verlede jaar se verkorte seisoen geëindig en mik die seisoen weer hoog.

Pella het van ’n onbekende tot ’n gunsteling in die Boland-grootuitdaag-bekerstryd gevorder. Dié span van Reuben Abels het verlede seisoen sy buiging in die Boland-topliga gemaak en vriend en vyand verras toe hy tweede in die Weskusstreek ná Saldanha geëindig het en teen Wesbank in die uitspeelronde vasgeval het. “Pella sal beslis weer sy stempel afdruk veral met die klomp nuwe spelers wat by ons aangesluit het,” meen Abels. Die span konsentreer tans op fiksheid en vaardighede om sy groep gereed te kry. Pella speel sy eerste vriendskaplike wedstryd teen Clanwilliam tuis 2 Maart.

Mamre sal beslis die nuwe seisoen sy ritme vroeg wil vind. Dié groen truie het verlede seisoen een van sy swakste vertonings gelewer en skuld sy ondersteuners ’n beter seisoen. Mamre het ook reeds aan verskeie sewestoernooie deelgeneem as voorbereiding vir die nuwe seisoen. Die span het verlede seisoen net-net oorleef toe ’n beter punteverskil hom in die topliga gehou het.

Die span van Graig Schoeman, speel eerskomende naweek tuis teen Genadendal.

You need to be Logged In to leave a comment.