Sokkerklubs van Atlantis het Sondag 2 Julie hul stem behoorlik dik gemaak in die jaarlikse Coca-Cola SAFA-uitkloptoernooi, wat op die Robinvale-sportveld gehou is.
Sowat 269 spanne van regoor die Wes-Kaap neem jaarliks aan dié toernooi deel met groot kontantpryse wat op die spel is. Van die agt plaaslike spanne wat aan die toernooi deelneem, het vyf spanne tot die volgende ronde deurgedring.
Die grootste verrassing was toe Wesfleur City, wat verlede seisoen die plaaslike vlag hoog laat wapper het toe hulle die beste van plaaslike klubs presteer het, in die eerste ronde van die nuwe seisoen in ’n wegwedstryd teen City Eleven vasgeval het. Aberdeen het ook ’n bitter smaak in ondersteuners se monde gelaat toe hulle teen Leeds Lentegeur met 4-1 vasgeval het.
Jomos Power het egter hul staal getoon en die span van Vasco Da Gama met 4-1 oorrompel om hul plek in die volgende ronde te verseker. FC Bayern het Atlantis se tweede span geword wat tot die volgende ronde deurgedring het toe hulle Aloe Spurs met 2-1 geklop het. Robinvale Spurs het ook ’n puik oorwinning behaal toe hulle Red Rovers met 2-1 geklop het. Robinvale het, danksy ’n strafdoel laat in die tweede helfte deur Ashley Koeries, die besoekers met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Robinvale het verskeie geleenthede gehad om die wedstryd te seël, maar verbroude kanse het byna die span gepootjie. Die opwindende Pella Sporting-span het ook ’n welverdiende oorwinning behaal toe hulle Fulham United met 1-0 geklop het. Die jong span van Pella speel tans die wêreld aan die brand en behoort goeie rekenskap van hulleself te kan gee in dié kompetisie.
Atlantis City het op ’n drafstap deurgedring toe hul teenstanders nie opgedaag het nie en Atlantis Arsenal het teen DG Orient met 4-2 vasgeval.
Die volgende rondes vind op Sondag 23 Julie plaas; die loting word op 17 Julie gedoen.