Mamre-rugbyklub het Saterdag 14 April behoorlik sy staal getoon teen Young Tigers van Darling op laasgenoemde se tuisveld.
Mamre het die vriendskaplike stryd maklik 52-8 gewen – dit nadat die span teen rustyd reeds 28-8 voor was. Die Tiere het van die afskop hard gegrom, maar het geen byt gehad teen ’n begeesterde Mamre-span nie.
Die besoekers het die eerste helfte met die wind in sy gesigte gespeel en het uit die staanspoor gespeel om te wen. Die stryd was gekenmerk vir swak dissipline aan beide kante en hanteerfoute van albei spanne.
Mamre, met sy sterk voorspelers, het die grondslag vir die oorwinning in sy agtal gelê en het die tuisspan behoorlik in die grond geskrum en meters ver veld met sy rolmaalbewegings gewen. Tigers, wat met die wind agter sy blaaie gespeel het, kon nie voordeel daaruit trek nie en die besoekers het behoorlik baljaar met gebiedsvoordeel en balbesit.
Mamre se skakelpaar, losskakel Duwayne Cupido en skrumskakel Bradley de Jong het grotendeels beheer van die wedstryd gehad.
De Jong het puik diens aan sy skakelmaat voorsien wat met sy taktiese skopwerk sy span op die aanval gehou het. Cupido het ook goed pale toe gekorrel en het al vier sy span se drieë in die eerste helfte verdoel. Mamre het behoorlik die krane in die tweede helfte oopgedraai en die tuisspan moes die grootste deel van die helfte net verdedig.
Mamre het eenvoudig nie die tuisspan toegelaat om terug te kom in die wedstryd nie en het swak dissipline van sy teenstanders behoorlik uitgebuit.
Die tuisspan se dissipline was veel swakker as die van Mamre, maar beide spanne het ’n geelkaart ontvang.
. Pella het Saterdag (21 April) op sy tuisveld gewys dat dinamiet in klein pakkies kom toe hy die besoekers uit St. Helenabaai met die kous oor die kop huis toe gestuur het en daarmee ’n duidelike boodskap dat hy hier is om te wen. Pella het van die afskop aangeval en was gou met 5-0 voor. Die tuisspan het die besoekers voos geduik en sy rotsvaste verdediging was ook die sleutel tot die oorwinning. Met ’n rustydtelling van 10-7 het die besoekers kort na rustyd sy neus voorgekry met nog ’n verdoelde drie.
Dit het egter die tuisspan geskud en Jade Solomons, vurige heelagter van die tuisspan, het die besoekers na lug laat gryp met sy drentel lopies.
Pella het deurgedruk en het die stryd met 27-19 gewen.