Drie leerders van Robinvale Sekondêre skool het die sokkervelde van Italië aan die brand gespeel by die onlangse San Marino-bekerkompetisie.
Sakhe Mabe (17), Amkele Mphalala (17) en Monelisi Phalamahashe (18) was deel van die groep van die Wes-Kaap wat 4 Julie na Italië gereis het vir ’n kompetisie waaraan skole van oor die wêreld heen deelgeneem het.
Die kompetisie het 10 afdelings gehad en hulle het in die o.18-afdeling gespeel waar hulle Bastia van Frankryk met 2-0 in die eindstryd geklop het.
Volgens die jongmans het hulle slegs eenkeer op pad na die eindronde verloor.
Die opgewonde leerders sê dit was ’n wonderlike ervaring en Mphalala se doel in die eindstryd was die kersie op die koek.
Dié seuns, wat graag professionele spelers wil word, sê die ondervinding wat hulle in Italië opgedoen het, is dalk net die regte motivering in hul strewe na sukses op die sokkerveld. Die drie is ook lede van hul skool se eerste span.