’n Voormalige Atlantis-speurder is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir klagtes van regsverydeling tot die besit van dwelms.
Vaughan Afrikaner is Donderdag 13 Junie in die Atlantis-streekhof skuldig bevind op aanklagte van diefstal, die besit van staatseiendom, die besit van tik en die besit van ammunisie.
Die voormalige polisieman is in 2015 aangekeer nadat 36 sakkies met forensiese bewyse in sy huis gekry is. Sy inhegtenisneming deur lede van die provinsiale speurtak het op ’n wenk uit die gemeenskap gevolg. Die forensiese bewyse in Afrikaner se besit het verband gehou met plaaslike polisieondersoeke teen bendegroepe.
Afrikaner het voorheen ’n pleitooreenkoms van die staat van die hand gewys. Die ooreenkoms was vir ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar waarvan drie jaar korrektiewe toesig sou wees.
Kol. Adolf Jonker, speurhoof op Atlantis, het destyds gesê Afrikaner se inhegtenisneming het gewis ’n invloed op sy kollegas gehad. Jonker het verduidelik die ander speurders het Afrikaner met die vervoer van bewyse na die polisie se laboratorium vertrou aangesien dit makliker was om net een persoon te stuur.
“Dit is ’n groot verligting dat niemand anders enigsins met die dade van die beskuldige verbind word nie,” aldus Jonker.
Volgens kapt. Cyril Dicks, kommunikasiebeampte van die Atlantis-polisie, sal iets soortgelyks “nooit weer gebeur nie” omdat maatreëls by die stasie ingestel is om dit te voorkom.
“Verskeie lede van die hele polisiekantoor is destyds ondersoek om te verseker daar was nie soortgelyke oortredings nie. Waar nodig, is departementele stappe gevolg,” sê Dicks.