Die groep wat in September verlede jaar besluit het om iets daadwerklik aan die behuisingsprobleem in Atlantis te doen, het nie net grootgepraat nie.
Die Atlantis Development & Housing Project-komitee sê die komitee voel daar word te min aandag aan behuising vir jong professionele mense, wat meer as R15 000 per maand verdien, gegee.
Dié groep het skouer aan die wiel gesit en planne beraam om behuising na Atlantis te bring. Volgens proporsionele raadslid van die ANC, Fiona Abrahams, het die groep haar genader nadat hulle deur ander amptelike kanale nie gehelp kon word nie. Sy het die groep riglyne gegee oor hoe om dié uitdaging te hanteer.
Die komitee het ’n mosie deur Abrahams by die subraadvergadering ingedien wat deur al die raadslede by die vergadering, wat Donderdag 22 Februarie gehou is, ondersteun is. Die mosie vra dat die grond in Mesabistraat, Moorfoot, Lukasrand en Mendipstraat wat aan die provinsiale regering behoort, aan die groep gegee moet word vir ontwikkeling.
Die groep is bekommerd te veel jongmense trek uit die dorp as gevolg van onvoldoende behuising en dit is hulle doel om die jongmense hier te hou. Die Atlantis Development & Housing Project-komitee beoog om self ’n ontwikkelaar te kry wat elkeen se droomhuis sal bou en daar word gekyk na sekerheidskomplekse sodat die inwoners veilig kan voel.
Volgens Abrahams dink die groep reg en erken daar word nie baie gedoen om die opkomende jeug tegemoet te kom nie. Abrahams sê voorts “dit gaan nog ’n tyd neem, maar daar sal maandeliks terugvoering oor die vordering gegee moet word. Ek gaan beslis al my aandag aan die projek gee, want behalwe die huise is dit ook ’n gulde geleentheid vir werkskepping en klein sakeondernemings om ’n merk te maak,” sê sy.