Recreational Activities se komiteelede by die Atlantis-bekendstelling van die organisasie.Foto: David Rossouw


Sport is ’n geleentheid om gemeenskappe bymekaar te bring, en daarom het Recreational Activities SA sy sportprogram by Durapark in Atlantis bekendgestel.

Die geleentheid is Sondag 30 April in die bendeverwante gebied gehou.

Volgens Tom Tobie, ’n stigterslid van die groep, beywer die organisasie hom om sport in bendegeteisterde gebiede te ontwikkel.

Die program is begin nadat hulle vasgestel het ’n groot aantal tieners verlaat skool. ’n Vergadering is met die polisie en ander gemeenskapsorganisasies in samewerking met die plaaslike raadslid Moosa Raise belê en Recreational Activities SA is toe gebore. Die organisasie werk reeds ’n geruime tyd saam met plaaslike sportadministrateurs in Dura- en Proteapark. Hulle werk ook met oud-Bafana-Bafana-sterre soos Bradley August en Franklin Cale, asook plaaslike sakelui van Atlantis, die polisie en die metropolisie.

“Ons doel is om verskillende sportkodes soos sokker, netbal, rugby en snoeker onder een sosiale organisasie in bendeverwante gebiede te ontwikkel. Die idee is om later ander sportkodes met die samewerking en ondersteuning van ander sportgroepe by te voeg.

“Ons wil hê inwoners moet vrylik na ander gebiede in ons dorpe kan beweeg – dit is waarom ons die program in samewerking met die polisie, die metropolisie en gemeenskapsorganisasies moontlik maak,” het Tobie verduidelik.

Yusuf Maart, ’n huidige Bafana-Bafana-speler, en die Chiefs-speler Roy-Kean Avontuur, ’n SA o.17- en Stellenbosch-speler, sowel as Jaden Rhodes, ’n Cape Town City FC-speler, is as programambassadeurs gewerf.

“Hierdie drie seuns kom uit die sogenaamde bendegeteisterde gebiede in Atlantis, wat die Dura- en Edinburg-woonstelle insluit,” voeg Tobie by.

Die komitee, wat uit sport-, sake-, veiligheid- en sekuriteit-sektore bestaan, werk onverpoos aan maniere om sport in alle dele van Atlantis toeganklik te maak.

Met die program hoop die komitee om ander individue aan te moedig om in die voetspore van Yusuf Maart, Roy-Kean Avontuur en Jayden Rhodes sowel as dié van ander sportsterre in Suid-Afrika te volg en rolmodelle in hul gemeenskappe te word.

Die organiseerders bedank Jacobs Fruit & Veg, 8 Ball Pool, OHB, die plaaslike polisie, die metropolisie, Smile Production, die gemeenskap van Atlantis en die raadslede Moosa Raise and Allister Lightburn vir hul ondersteuning en bydrae tot ’n suksesvolle byeenkoms.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article