Spurs nou die premierligawenners

Robinvale Spurs is as Atlantis-sokkervereniging se premier­ligawenners gekroon.


Robinvale Spurs is as Atlantis-sokkervereniging se premier­ligawenners gekroon.

In die eindwedstryd teen Aberdeen was hulle baie gelukkig om die gelykmakende doel in die doodsnikke van die wedstryd aan te teken. Aberdeen het vroeg hulle doel behaal en was tot die einde van die wedstryd in beheer.

Die uitslag was die beste nuus vir die ondersteuners van Robinvale Spurs en die druk was baie hoog vir Aberdeen om Wesfleur die Sondag te verslaan. Aberdeen het vroeg in die eerste helfte ’n doel aangeteken om rustyd teen Wesfleur voor te loop.

Wesfleur het egter baie beter in die tweede helfte gespeel en die gelykmakende doel vanaf die strafkol behaal. Aberdeen het alles in hulle vermoë daarna gedoen om die wendoel te behaal, maar dit was nie moontlik met Wesfleur se skitterende verdediging nie.

Albei Robinvale Spurs en Aberdeen het met 22 punte geëindig, maar Robinvale Spurs het ’n beter doelgemiddeld. Die premierliga was ook net oor een ronde beslis weens die toestande van die sportvelde en die druk program van Atlantis Sokker-vereniging wat laat begin het.

Hoewel Robinvale Spurs die liga op die veld gewen het, is daar nog dissiplinêre sake waarvan die beslissings nog nie bekend gemaak is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.