Staatsaanklaer nou in beskuldigdebank

’n Staatsaanklaer by die Atlantis-hof bevind homself tans aan die verkeerde kant van die gereg.


’n Staatsaanklaer by die Atlantis-hof bevind homself tans aan die verkeerde kant van die gereg.

Die waarnemende hoofstaatsaanklaer moet weer op 30 Maart in die Parow-landdroshof verskyn op klagte wat verband hou met seksuele aanranding en die besit van kinderpornografie.

Die man is op 29 Desember by sy huis in Malmesbury in hegtenis geneem.

Die aanklaer, wie se naam nie genoem mag word om die slagoffers te beskerm, is drie maande lank deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings ondersoek.

Die 42-jarige verdagte het Vrydag 30 Desember in die Parow-landdroshof verskyn, waar hy op borg van R1000 vrygelaat is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het die klagtes teen die staatsaanklaer bevestig. “Die verdagte is nie meer ’n werknemer van die nasionale vervolgingsgesag nie, hy het op 31 Desember bedank.”

Volgens ’n polisiebron kan hy dalk op meer as 500 klagtes verskyn en is die bewyse teen die verdagte “om van siek te word”.

Die verdagte het in sy borgaansoek aangevoer dat hy behandeling ontvang en ook ’n ondersteuningsgroep bywoon.

As deel van sy borgvoorwaardes het landdros Elsa van Zyl gesê die verdagte moet wegbly uit Atlantis en Malmesbury. Hy moet ook elke Vrydag aanmeld by die polisiestasie Robertson, waar hy woonagtig sal wees tot sy volgende verskyning. Hy mag ook geen kontak met enige van die staat se getuies hê nie.

Atlantis-landdroshof is die afgelope tyd onder die vergrootglas nadat ’n skoonmaker en onderhoudsbeampte onlangs deur die polisie betrap is met dwelms in Witsand, wat moontlik vir die hofselle bestem was.

Die vorige staatsaanklaer is ook vermoedelik verplaas weens dwelmmisbruik en moes in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem word.

Volgens wyksraadslid en kampvegter vir kinders en vroueregte, Barbara Rass, ontvang sy ook gereeld klagtes van gemeenskapslede, wat aanvoer dat dit maande neem voor onderhoudsgelde aan hulle uitbetaal word.

Rass sê: “Ondersoek almal en verwyder die wat verwyder moet word.”

You need to be Logged In to leave a comment.