Stad hou vol “onbewoonde strukture” is afgebreek

Inwoners van Pella wat Dinsdag hulpeloos moes toekyk hoe stadsamptenare hul wonings afbreek, is weer besig om woonstrukture op te rig.


Inwoners van Pella wat Dinsdag hulpeloos moes toekyk hoe stadsamptenare hul wonings afbreek, is weer besig om woonstrukture op te rig.

Pella het Dinsdagmiddag omstreeks 15:00 soos ’n oorlogsone gelyk toe munisipale wetstoepassingsbeamptes en die teengrondbesettingseenheid die woonstrukture kom afbreek het. Chaos het uitgebreek en verskeie inwoners is met traangas gespuit en met rubberkoeëls geskiet.
Tekort aan behuising

Inwoners het Vrydag 3 Februarie begin om strukture op ’n oop stuk veld in die dorp op te slaan, waar hulle sedertien woon, ná gerugte dat die kerk die grond wil gebruik vir diere om op te wei.

“Ons kinders het nie huise nie, maar hulle wil die grond gebruik vir diere,” vertel Judine Maneville.

Volgens Louwdine Booysen, een van die plakkers, is daar ook gerugte dat die kerk die grond wil verkoop teen R60 000 per erf.

Hendrik Wilschutt is ’n houtkapper en woon die afgelope drie jaar in Pella – die dorp waar sy grootouers grootgeword het.

“Ek het in verskeie mense se jaart gewoon teen R150 per week, maar ek verlang ook om ’n plek van my eie te hê,” vertel Wilschutt, terwyl hy in die slaapkamer van die tweevertrekwoning staan.

Paulette Kiewietz en haar 11-jarige kind woon ook sedert Vrydagaand in haar opslaanhuis.

Haar ma bly in die volgende straat, waar sy die toilet gebruik en water kry.

“Ek het in my ma se jaart gewoon, maar daar woon reeds te veel mense. Ek het geen privaatheid nie.”

Die eerste fase van die Pella-behuisingsprojek word vanaf einde Februarie opgerig. Met die projek sal 180 huise opgerig word, maar nie een van die plakkers gaan hierby baat vind nie. Die huise is vir 200 begunstigdes, wat reeds in 2004 hul erwe ontvang het.
Munisipale beamptes tree in

Munisipale beamptes is ontbied nadat ’n saak van onwettige betreding die Dinsdag-oggend deur die kerk by die polisie aanhangig gemaak is. Die klagtes is deur kapt. Cyril Dicks, polisie-woordvoerder, bevestig.

Inwoners het die munisipale beamptes konfronteer en is met traangas gespuit en met rubberkoeëls geskiet.

Kiewietz moes toekyk hoe die stadsraad se teengrondbesettingseenheid haar huis, wat hulle deur die nag gebou het, stuk-stuk afbreek.

Sy het wel haar meubels, ’n bed, stoel en kas, uitgedra. Een van die amptenare het nog die huis se venster vir haar aangegee, sê Kiewietz.

Daar was ook meubels in ander huise wat afgebreek is.

Fiona Abrahams, ANC-raadslid, het tevergeefs aan munisipale amptenare probeer verduidelik dat die grond nie aan die Stad Kaapstad behoort nie, maar aan die Morawiese kerk.

“Hulle (munisipale wetstoepassers) het geen reg gehad om so op te tree nie. Die grond behoort nie aan die Stad nie,” het Abrahams gesê.

Volgens Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid en sekerheid by die Stad Kaapstad, kan die Stad “ingryp wanneer die gemeenskap se veiligheid in gedrang is”.

’n Munisipale beampte op die toneel het aan Weskus Nuus gesê, die strukture wat afgebreek word, is nie bewoon nie.

Barry Roberts, ’n beampte by die Kaapse stadsraad se teengrondbesettingseenheid, het ook telefonies erken dat hy opdrag gegee het dat die “onbewoonde strukture afgebreek moet word”.

Volgens Bosman is die “onbewoonde strukture verwyder om plundering te bekamp.”
Geweld

Verskeie inwoners het mediese behandeling ontvang nadat hulle met rubberkoeëls getref is. Ten minste twee inwoners beweer ook hulle is deur munisipale wetstoepassers aangerand.

Wesley Henkeman, wat ’n kunsbeen het, sê hy kon nie gou genoeg weghardloop van die wetstoepassers nie en is in die gesig geskop.

Volgens Charmien Coetzee, wat agt maande swanger is, is sy deur die gesig geklap deur ’n wetstoepasser omdat sy glo foto’s wou neem terwyl hy Henkeman aanrand.

Kapt. Dicks het bevestig ’n klag van aanranding is Woensdagmiddag aanhangig gemaak teen munisipale wetstoepassers.

Bosman sê die Stad het geen rekord van enige persone wat beseer is nie en slegs nadat skriftelike klagte teen wetstoepassers gemaak is, kan ’n interne ondersoek gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.