Atlantis-inwoners moet bakhand staan met werkloosheid wat aan die orde van die dag is, terwyl miljoene rande uit die dorp gaan.
Sò meen kontrakteurs, inwoners en besigheidseienaars in Atlantis.
Die opgradering van die Atlantis-begraafplaas, die Smart Park, wat tans in Saxonsea gebou word, skoonvee van paaie en nuwe omheining wat in Kanonkop opgerig word, so ook Kanonkop-behuising, is enkele voorbeelde van projekte, wat deur ’n tenderproses aan kontrakteurs van buite Atlantis toegeken is.
Volgens Umer Dollie, eienaar van Dollie Eiendomme, het kontrakteurs van Atlantis al die huise in areas soos Big Bay gebou. “Hoekom kan hulle nie Atlantis self bou nie? Ons dorp het genoeg mense met die vaardighede en hulpbronne om groot projekte aan te pak,” meen Dollie.
Volgens ’n plaaslike boukontrakteur, wat nie genoem wil word, skat hy sowat 95% van plaaslike bouers moet buite Atlantis gaan werk soek.
“Indien ons werk kry in Atlantis, word daar verwag dat ons vir peanuts moet werk.”
Een uitdaging vir kontrakteurs is dat hulle eers ná die tyd uitvind van tender-geleenthede omdat dit nie plaaslik geadverteer word nie.
Volgens Johan van der Merwe, burgemeesterskomiteelid vir finansies by die Stad Kaapstad, word tenders slegs in streekskoerante geadverteer om “kostes te bespaar” en omdat hierdie koerante “’n groter gebied dek.” Van der Merwe sê voorts, tenders word ook op die Stad se webwerf geadverteer.
Jennifer Amsterdam (49), van Protea Park, is sedert Desember werkloos.
“Besighede kom van buite Atlantis om kontrakte te doen, dan kry ons net vir een maand werk. Jy weet nooit of daar weer volgende maand gaan werk wees vir jou nie. Wanneer bemagtig die Stad ons, soos hulle in die verkiesingsveldtog belowe het? Hulle maak net leë beloftes.”
Volgens Michael Marote, voorsitter van die Atlantis Sakekamer, sal die toeken van tenders aan plaaslike kontrakteurs, ’n positiewe “knock-on effect” vir die plaaslike ekonomie hê.
“Wanneer plaaslike kontrakteurs, arbeiders, vakmanne en diensverskaffers gebruik word, sal die hele gemeenskap baatvind,” aldus Marote.